MY BITTERSOET HERINNERINGE

Posted on November 13, 2020 · Posted in History

Ons het vir dekades in Kommetjie gebly.  Ons familie het bestaan uit 12 kinders ( Japie Daniels, Joy Daniels, Freddy Daniels, John Daniels, Jane Williams, Katherine Simon, Lillian Daniels, Johanna Williams, Louisa Layters, Anne Botha, Elizabeth Davis en Sadia Ahmed) wat liefdevol grootgemaak  is deur ons ouers, Louisa Daniels en Jakob Daniels.

My pa was die opsigter van die water pompe en hy was ook in beheer  van die elektrisiteit in die omliggende geboue.  Soggens vroeg sou hy die elektrisiteit aanskakel en saans sou hy dit weer afsit.  As kinders het ons hom oral gevolg want sy kennis van die boerdery en die vissery industrie het eindeloos gestrek.  My pa het ook sy eie groentetuin gehet en ons het vrugte en groente aan die Blanke bure verskaf.  Ons het ook vars groente en vrugte aan die vakansiegangers verkoop.  My pa het ook ‘n perdewa gehad en ons Blanke bure het hulle kruideniersware lysie vir hom gegee om die inkopies by die Sunnydale Slaghuis te doen.  As kinders was hierdie uitstappie die hoogtepunt van ons week.  My ma het as dagwerker twee keer ‘n week by die Kommetjie Hotel gewerk.  Terwyl sy by die werk was het ons by Longbeach geswem en die sandduine uitgeklim.  Ons het ook vir lang uitstappies na die skipbreuk, Kakapo gegaan en vele sorgvrye ure daar spandeer.  Ons sou ook lekker Mossels en nog vele ander seekosse van die rotse afhaal.

Ons het ook ‘n fontuintjie ‘n entjie van ons huis gehad.  Uit hierdie put het vars, bros, helder,skoon water geborrel.  Ons het emmers water heen en weer gedra vir huishoudelike gebruik d.w.s vir kook, bad en om skoon te maak.  Ons het geen elektrisiteit gehad nie en het parafien lampe en kerse gebruik.  Ek en my broers en susters het hout in die naby gelee bos gekap vir ons koolstoof waar my ma die heerlikste etes voorberei het.  Ons kombuisie was die beste plek om te wees want nie net het dit die fantastiese geure en aromas gehad nie, maar was ook lekker snoesig en warm. 

In ons agterplaas was groot damme en gedurende winter was dit lekker vol en het ons bote van sink, yster en planke gemaak.  Ons kommervrye dae was spandeer in die velde wat ons huis omsingel het.  Heaths, Afrikaners, Pypies, Sierring, Sewe Jaartjies en soveel meer het daar gegroei.  Die Blankes was so lief vir hierdie pragtige rangskikkings dat hulle ons daarvoor betaal het.  Met hierdie geldjie het ons verskillende lekkers soos swart balle, scenetjies,toffees, pienk sterre, gesiggies, name lekkers, liquorice drops, ens gekoop.

‘n Gunsteling lekkerny was wanneer my pa een van vele van ons varke of hoenders geslag het.  Al was ons aanvanklik baie arm was ons met onvoorwaardelike liefde grootgemaak.  Dit was by ver die beste jare van ons lewens want alhoewel my ouers baie streng was het dit ons die nodige disipline geleer om hoe ons medemens met respek en liefde te hanteer.  

Die dag wat die Forced Removal Act intree was ‘n verskriklike traumatise, harseer, donker dag wat ons nooit sal vergeet nie.  My ouers was veral baie hartseer en depressief en alhoewel hulle, hulle beste probeer het om brawe gesigte op te sit, het hulle weens verlange na hulle tuiste in Kommetjie gesterf.

Psalm 91:1,2:  Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sé vir die Here: U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertroou.

Gebed:  Almagtige God, ek kies om te lewe, bestaan en permanent te bly binne die Tuiste wat U geskep het vir my hart, siel en gees met die Vrede om te weet dat U naby is. AMEN

Geskryf deur:  Louisa Johanna Layters

We are raising funds for two mosaic benches to mark the forced removal of three families from Kommetjie during the apartheid forced removals. Find out about the fundraiser here: https://www.kommetjie.org/2020/11/were-raising-funds-for-two-mosaic-benches-to-mark-the-forced-removal/